Germishuys

In die stikdonker nag hardloop  ʼn bejaarde man waansinnig oor ʼn verlate plaaswerf. Sy hoed waai van sy kop af en tuimel oor die roet en gloeiende kole van ʼn afgebrande ossewa. Die reuk van buskruit hang swaar in die lug. Hy huil en skree, aaklig, hartroerend. Trane tap deur sy wilde wit baard. Hy spring onder ʼn bos in en begin grou. Bolle, wurms en klompe nat grond spat deur die lug. Niks daar nie. Hy gooi sy vuil, verrimpelde hande, met naels wat al tot by die vleis af geskeur is, op na die wolke hemel en gil. ʼn Kreet na God wat onbeantwoord bly. Dan hoor hy dit weer. Babas wat huil. Die eggo weerkaats teen mure en bome. Hy hou sy hygende asem op om beter te hoor. Bloedbelope oë wawyd oop. Hy spring op en pyl weer oor die erf na ʼn ander bos, spring onder dit in en begin waansinnig te grou. Sy weeklaag trek deur die donker, oor die huis, oor die tuin, oor die oop velde daarom, en omsluier die plaas in verdriet en toorn.

In die skemer ratel ons motor, vol gelaai, by die kronkelende plaaspad op.

Ek sit-staan agter in die middel op my sussie se skoot, my nek ongemaklik gebuk om by die venster uit te kan sien. My oom en neef ry voor ons in hul bakkie.

Ons ry verby ʼn groen weiveld, ʼn trop vars geskeerde skape, en ʼn klompie Batswana hutte. Een hut staan weg van die ander, bo-op ʼn klein heuwel, met groot droë takke rondom die donker ingang wat soos reuse geraamte hande lyk.

My pa se plaas was net so groot, dalk groter. Koringlande tot ver verby die horison. Hope grondboontjies, hoog soos berge, vir uitvoer na die buurlande. ʼn Vier jaar lange droogte het alles verwoes. Die geld vir die verkoop van die dorre grond was net genoeg om sy besproeiings skuld af te betaal. Nou trek ons in by ʼn huis wat leeg staan hier op my oom se plaas. Hy en sy gesin woon in die hoof huis aan die ander kant van die vallei, en my oupa en ouma woon in die huisie verby die vlei, agter die dennebos.

My drie ouer sussies, Joanni, Mia en die oudste, Carien, stry met my ma oor watter honde ons gaan aanhou. Wanneer ons om die laaste draai kom raak almal stil. Eers verskyn ʼn groot vervalle skuur, en dan die huis se rooi dak wat bo verwese vrugtebome uit steek. Ons stop by die hek en wag vir my neef om dit oop te maak. Iets vang my oog. ʼn Enkele, hoë boom staan langs die hek en in sy verdroogde takke, ʼn ronde raamwerk van toue, deurvleg met stokkies, diervelle en bene.

My pa klim uit en stap na my neef. Hy vra hom iets en beduie na die vreemde ding. My neef bekyk dit vir ʼn oomblik met hande op sy heupe. Dan antwoord hy met ʼn lig van sy skouers en skud van sy kop.

Wanneer ons voor die huis stop tref die enormiteit my eerste. Geen wonder my oom het iemand nodig om dit in stand te hou nie. Vrugte, denne en peper-bome omring ʼn ongesnyde grasperk, en in die middel; die groot, ou huis, bedek met wilde rankplante wat by die mure opkruip.

Buite die kar praat die grootmense lank oor die instandhouding van die tuin. Teen die tyd wat my oom die agterdeur oopsluit is dit al donker.

Die huis se elektrisiteit is nog nie aangeskakel nie. My oom het ʼn flits. Ons skuifel ongemaklik in die kombuis in. Dit is ʼn eenvoudige vertrek met baie roomkleurige kaste waarvan meeste se deure oopstaan. Ek wens ons het meer flitse gehad. Hy vertel dat die huis die oudste een op die plaas is. Sy stem eggo deur die leemte. Die een helfte waarin ons nou staan is gebou nog voor die grond in ons familie se naam was. Later was die nuwe gedeelte aangebou. Die ou gedeelte se mure is van klei, amper ʼn meter dik. Dit laat die huis koud en nat voel, soos ʼn spelonk. Ek wens skielik dat ons vinniger kan beweeg om by die nuwe gedeelte uit te kom.

Stadig begin ons deurstap. Een groot leë vertrek na die ander. My oom is voor, dan my pa, neef, ma en sussies, en ek heel agter. Wanneer die groot mense nie praat nie heers ʼn onaardse stilte wat slegs nou en dan onder breek word deur die ligte dreuning van donderweer in die verte. Die reuk van pyptabak hang in die lug. Ek probeer verby my sussies skuif om nader aan die lig te wees, maar sukkel om ʼn spasie te vind.

Die duisternis agter my voel soos groot, swaar hande wat aan my rug wil gryp. Oop deure aan my linker en regter kant is geheimsinnige swart poorte waaruit enigiets enige oomblik kan spring.

Ons beweeg deur die spens, ʼn klein vertrek met hout vloere wat kraak en glas kaste wat op staan. Eindelik bereik ons die drie vertrekke en badkamer wat die nuwe gedeelte is aan die einde van die huis. Hier is die vensters groter, die mure nie so dik nie, en die knop in my maag nie so stram nie. Die ingeboude kaste se deure is toe.

Wanneer ons weer in die kombuis kom en die grootmense besluit om opnuut ʼn gesprek aan te knoop het ek genoeg gehad. Ek rits verby hul en ontsnap by die agterdeur uit tot in die vryheid van die ope naglug.

“Sy is bang!” kom my oom se stem van binne.

Almal bars uit van die lag.

“Ek wou sê sy het bietjie benoud gelyk,” sê my ma, en die gelag raak nog harder.

My wange brand.

My pa kom uit, sit ʼn arm om my kop en druk my teen sy sy vas. “Daar is nie spoke hier nie,” troos hy.

Ek wikkel myself vies los en gaan klim in die kar.

//

Genadiglik slaap ons daardie aand in die hoof huis. Die volgende oggend word al ons aardse besittings met een groot vragmotor afgelaai. Die dag is ʼn warrelwind van bokse wat rondgedra en uitgepak word, my ma wat vloere was, Lisa, die bediende, wat kaste skrop, en my sussies wat deur die huis hardloop en baklei oor kamers. Ek is verlig om ‘n kamer in die nuwe gedeelte te kry, naby my ouers sin.

Laatmiddag sit ek in die kamer en pak poppe in my groot hout speelgoed kis in. ʼn Ligte reën trommel teen die venster.

My ouers het ʼn gesprek in hul kamer. Ek begin die woorde uitmaak wanneer hul stemtone hoër raak.

“Al wat ek wil weet is wie dit in die boom gehang het en hoekom,” pleit my ma.

My pa sê iets wat ek nie kan uitmaak nie.

“Bene en velle hang nie hulleself in ʼn boom op nie! Hoekom is jy nou so?” vra sy.

“Ag los dit nou, die goed is klaar afgehaal,” kom sy stem deur.

Skielik val die speelgoed kis se swaar deksel voor my neus verby en klap met ʼn harde hou toe.

My hart klop in my keel. Gelukkig was my hande nie daar in nie.

Na ʼn oomblik se stilte kom my pa se kwaai stem: “Wat gaan daar aan?”

Ek kry ʼn hees ‘jammer’ uit, net hard genoeg vir hom om te hoor.

//

ʼn Paar dae later is die huis amper in orde en ek en my sussies begin die area rondom ons verken. Ons besoek twee damme, ontdek ou verlate bees- en vark krale, en ʼn groot sloot wat ʼn heerlike glyplank maak. My pa maak ook ʼn ontdekking. Hy laat ʼn paar ou verotte bome uit die grond grawe en vind onder die een se wortels twee Mausergewere wat hy en my oom reken was daar weggesteek vir die Engelse tydens die Boereoorlog.

Een dag besluit die vier van ons om die groot oop grasveld agter die skuur te verken. Na ʼn ent se stap bereik ons ʼn koringveld wat nuut omgeploeg is. In die middel van die veld is ʼn klein eiland met sowat vyf bome wat na aan mekaar groei. Carien besluit dat ons daarheen moet stap om dit van nader te bekyk. Op pad kom ons agter dat die bome glad nie groei nie en al lankal dood is. Swart, verdroogde takke krul en vleg deur mekaar. Ons begin ook vreemde donker voorwerpe onder die bome uitmaak, soos rotse maar meer reghoekig.

Wanneer ons naby is stop almal in hul spore. Dit is ʼn ou begraafplaas!

Ons ginnegaap vir ʼn oomblik en dan hardloop die ander vooruit. Na ʼn oomblik se huiwering sit ek hul agterna.

Vanuit die grond krul die bome se groot droë wortels tussen die grafstene uit. Die stene self was van onder opgestoot deur die wortels en staan nou almal skuins in verskeie rigtings. Ons tel agt in totaal, waarvan vier piepklein is. “Seker masels,” sê Carien.

Ons lees ʼn paar inskripsies. Jacoba Johanna Bothma 1856 – 1899. Johannes Jacobus Christoffel Trotsky 1898 – 1899. Petrus Jacobus Bothma 1867 – 1900. Catharina Judith Bothma 1887 – 1901. ʼn Gekraakte graf wat so skeef staan dat dit amper omval, het ʼn addisionele inskripsie. Ons lees: Abraham Wynand Germishuys 1830 – 1902, Moge rust en vrede eindelijk zijn ziel binnenkomen.

Iewers in die verte slaan ʼn blits donderweer hard, een keer, dan weer twee kere vinnig na mekaar.

Ons staar na die steen en probeer uitmaak wat die sin kan beteken.

“Dit was seker Germishuys wat al jou sakke oopgerits het,” sê Carien aan Mia, en grinnik vir haar eie grappie.

“Ag, ek weet dit was jy!”

“Ek het beter dinge om met my tyd te doen! Jy’t vergeet dat jy dit self oopgerits het.”

“Watookal.”

//

Daardie aand speel ons donker kamertjie. Dit is een van ons gunsteling tydverdrywe. Dit werk so: een wag buite terwyl die ander drie wegkruip in ʼn vertrek. Wanneer hul gelukkig is met hul wegkruip plekke skree een dat hul reg is. Die een wat buite gewag het kom dan in met ʼn hand oor haar oë, sit dadelik die lig af en maak die deur toe. Sy moet dan in die donkerte een vir een elkeen vind. Die hoop is altyd dat sy sal opgee omdat jy te goed verskuil was en nie ʼn geluid gemaak het nie.

Vanaand speel ons in die groot kamer in die ou gedeelte wat Mia en Carien deel, en Carien is die een wat ons moet soek.

ʼn Ligte wind huil om die hoeke van die huis.

Ek sit in die bedkassie, knieë styf teen my borskas geknyp. Wanneer die kamer deur oop kraak begin ek stadiger asemhaal om stiller te wees.

Die lig gaan af.

Die deur kraak weer toe.

ʼn Lang minuut gaan verby. Ek konsentreer hard om die geringste geluid op te kan tel, maar hoor niks. Ek wens ek het eerder op die kas of onder die bed weggekruip waar ek darem net iets kon sien.

Waar is sy? Hoekom gebeur niks nie?

Dan, van nader as wat ek verwag het, dreun Carien in ʼn verdikte, uitgerekte stem: “EK IS GERMISHUYS!”

ʼn Giggel bars uit en stop weer onmiddellik. Vier harde voetstappe. ʼn Gil. Carien lag hardop.

“Ek het jou!”

“Jy sal my nooit vang nie!” skree Mia.

Weer voetstappe wat hardloop. Die kamerdeur word oop gegooi. Iemand hardloop by die kamer uit, of was dit albei van hul?

ʼn Doodse stilte heers.

Nou dat die deur oop is, kom ʼn flou strepie lig by die naat van die bedkassie in. Stadig, stil, draai ek my kop om deur die gleuf te loer. As Carien weg is kan ek uitklim en ʼn beter wegkruip plek soek. Maar wat as sy daar staan en net maak of sy weg is? Die gleuf is nou, maar as ek my kop heen en weer beweeg sien ek ʼn klein gedeelte van die middel van die kamer.

Daar is ʼn donkerte daar.

Is dit ʼn silhoeët? Dit kan wees, maar nee, tog nie, want Carien is nie so lank nie en haar bors is nie so breed nie. En sy dra definitief nie ʼn hoed nie. Nee, dit is seker net ʼn skadu wat soos ʼn mens gevorm is. Ek hou aan om my kop stadig heen en weer te beweeg. Waar is sy? My bene begin pyn. My oë raak seker gewoond aan die donkerte want skielik sien ek nie meer die silhoeët daar nie.

ʼn Kasdeur swaai oop.

So sy is dan nog hier!

Nog ʼn kasdeur swaai oop.

En dan nog een.

ʼn Sak word oopgerits.

Hoe belaglik is sy, dink ek, want nie een van ons is klein genoeg om in ʼn sak te pas nie.

Dan hoor ek hoe elk van die lessenaar se laaie in suksessie oopgeruk word met ʼn verbasende spoed.

Nou is sy regtig besig om absurd te wees.

My hart klop al vinniger. Hoe lank tot sy die bedkas se deur kom oopmaak? Ek hoop maar net sy kyk eerste onder die bed waar Joanni wegkruip.

Daar is ʼn roering aan die bedkassie se handvatsel. My hart spring in my keel in.

Die grendel kreun.

Skielik ruk die deur wawyd oop.

My kop skiet op. Daar is niemand daar nie!

Uitasem spring ek by die kas uit in die hoop dat Carien iewers sal wees.

Die kamer is leeg.

ʼn Patetiese gil kruip by my droë keel uit. Dit slaag tenminste daar in om Joanni onder die bed uit te kry.

“Wat is fout? Waar is Carien?” vra sy verdwaas.

//

Die twee van ons stap deur die huis opsoek na Carien en Mia. Ons vind albei plat uitgestrek voor die TV.

My gesig is spierwit.

“Is jy oraait?” vra Mia effens besorgd.

Almal kyk na my.

“Um, wie het my deur nounet oopgemaak?” My stem bewe.

“Waarvan praat jy?”

“Sy’s alweer bang!”

“Jy moet rêrig oor jou bangheid kom, spoke word mos aangelok deur vrees.”

Die twee bars uit van die lag.

Ek draai na Joanni vir hulp. Haar oë glinster laggend.

“Was dit jy wat die deure so oopgeruk het?” vra ek.

“Wat? Nee!” sê sy, en begin ook te lag.

Swaar, brandende trane wel in my oë op. Ek swaai om en storm by die vertrek uit.

//

Die volgende oggend bad ek in die groot badkamer aan die ou kant van die huis.

Buite val ʼn sagte misreën.

Dit is meestal bewolk maar nou en dan flikker ʼn dowwe sonstraal deur die rankplant se blare wat van buite oor die venster hang. ʼn Enkele kers brand op die wye vensterbank.

Die vreemde gebeure van die vorige aand sweef steeds deur my gedagtes, tevergeefs opsoek na ʼn gepaste rusplek in my kop.

My ma, pa en Carien is dorp toe. Mia en Joanni het die skuur gaan verken. Lisa is af. Niemand om my aan te jaag nie. Die stilte is ʼn rare gawe.

Ek lê agteroor met my oë half toe. Nou en dan sit ek op om meer warm water in te tap. Omdat die venster en deur toe is, raak die hele badkamer omvou in stoom. Klein druppeltjies vog vorm op die mure se gladde melk-wit teëls. Ek staar met ʼn lui glimlag na my pienk, verrimpelde vingers.

Ek druk my neus toe en sak onder die water in.

Die geiser maak ʼn kreungeluid.

Iets klap.

Ek kom orent en strek na die warmwater kraan.

ʼn Koel lug blaas teen my nat rug.

Ek kyk om.

Die deur is oop!

Ek kyk reg deur tot in die kombuis.

Dit het nog nooit self oopgegaan nie. Ek het dit ordentlik toe gemaak. Is Joanni hul terug? Hul sou iets gesê het. Is ma hul terug? Ek sou die kar gehoor het.

Ek sit terug teen die bad se rand met groot oë.

Dan hoor ek ʼn geskuifel in die kombuis.

Stadig kyk ek weer om. Niemand daar nie. Ek sien net die kombuistafel en agter dit, ʼn ry laaie en rakke teen die muur.

Nog ʼn geskuifel.

ʼn Skaduwee.

Iemand is daar, agter die tafel.

ʼn Skouer kom in sig in.

ʼn Bruin jas.

Die rand van ʼn breë, bruin hoed, met olierige, spierwit hare wat daaruit hang.

Ouer, langer, en breër skouers as my oom of my pa.

Hy lyk vuil, asof daar ʼn laag stof oor hom is.

Hy skuif al meer in sig in, tot ek hom heeltemal kan sien. Hy staar na die kas, rug teen my. Hy lig ʼn arm op, maak ʼn kas deur oop, staar vir ʼn oomblik, skud sy kop. Dan laat sak hy sy arm en trek ʼn laai oop. Skud weer sy kop.

Hy skuif aan na die volgende ry kaste, en dan die volgende, totdat hy nie meer in sig is nie.

Ek asem stadig uit, versigtig om nie ʼn geluid te maak nie.

Ek sit doodstil vir wat soos ʼn ewigheid voel. Te bang om eers die deur te gaan toe maak.

Uiteindelik hoor ek ʼn kar in die oprit. Ek bly stil sit. ʼn Sleutel draai in die agterdeur.

My verligting is eers volledig wanneer my ma, pa en Carien se vrolike stemme die kombuis vol maak.

Ek kry nie eers skaam wanneer my ma in die badkamer instap en vra hoekom ek dan bad met ʼn oop deur nie. Ek is net so bly om haar te sien dat ek amper huil. Ek draai vinnig weg voordat sy die emosie op my gesig kan sien.

Hulle sal my nooit glo nie.

//

Twee angsgevulde weke gaan verby. Om elke hoek en draai verwag ek dat die spook daar gaan staan en vir my wag. Slapelose nagte met die lig aan lei na rooi geswolle oë die volgende dag, en ongewenste vrae van my gesin af. Enige skielike geluid of beweging laat my vreesbevange.

My gedagtes dwaal vir die eerste keer in my jong lewe in donker plekke rond. Die dood, die hiernamaals, en wat dit alles beteken.

Die beeld van sy breë rug, wit hare en hoed kom gereeld terug na my toe. Dan wonder ek oor en oor dieselfde ding. Het hy geweet ek is daar? Was sy doel om homself aan my te wys? Wil hy my kwaad aandoen?

Die ergste is wanneer ek wel aan die slaap kan raak, want dan kom die aakligste visioene na my in drome. Ontbindende kadawers vol wurms en vlieë, besete skape wat geslag word, ʼn leë plek met wreedaardige poltergeeste wat daar rond dryf, en een keer selfs my eie lyk wat kwaadaardig hoog bo die plaas in die wolke rond sweef.

Dit gaan my verstarde verstand te bowe dat niemand gepla is met die kaste wat so knaend oopstaan nie. Soms stap ek deur ʼn vertrek waarvan al die kasdeure toe is. Wanneer ek weer minute later terug daardeur stap is alles oop. Ek ril dan so dat die hare oor my hele lyf regop staan.

Op ʼn reënerige aand, net na middernag, maak die grieselige gedaante weer ʼn verskyning.

Ek lê wakker in my bed. Een bed lampie brand langs my, helder genoeg om die donker hoeke van die kamer te illumineer maar te flou om die ander mense in die huis se aandag te trek.

Ek staar op na ʼn donker vog spatsel teen die plafon. Dit het ʼn klein tydverdryf van my geword om allerhande diere, gesigte en vreemde monsters daarin uit te maak.

Iewers in die verte hoor ek ʼn laai oopgaan.

Ek vries. Ek hoop ek het my verbeel.

Dan nog ʼn laai, en dan dadelik nog twee in vinnig na mekaar.

Dit klink of dit van die spens af kom.

ʼn Oomblik van stilte, en dan swaai ʼn kas deur oop, die keer nader as die spens. Nog ʼn kas deur swaai oop. Nou is dit duidelik dat dit van die vertrek reg langs my kamer kom, die laaste vertrek van die ou gedeelte van die huis.

Nog ʼn deur swaai oop, die keer nog nader.

Ek ruk die kombers oor my kop en knyp my oë styf toe.

Hy kan nie in die nuwe gedeelte kom nie, sê ek vir die hoeveelste keer oor die afgelope twee weke vir myself. Dit is onmoontlik.

Dan hoor ek dit waarvoor ek al die tyd so bang was. My eie kamerdeur se handvatsel kraak, klik, en klap.

Die deur swaai stadig oop.

Ek ruk die kombers van my kop af.

Sy donker silhoeët is duidelik sigbaar in die skadu van die deurkosyn. So lank dat sy hoed amper die houtpaneel raak. Breë skouers. Jas.

Hy gee ʼn tree vorentoe, tot in die lig.

Sy stowwerige hoed sit laag oor sy voorkop. Onder dit steek wilde boste wit ooghare uit, ʼn kanopie vir twee vaal grys oë wat bo skerp wangbene gespanne uitpeul. Hy staar reg verby my, asof hy deur die muur, verby die tuin, deur die bome, tot by die omgeploegde land en skewe grafstene kan sien. Sy wange is diep, donker holtes. Dun, droë lippe is styf toegeknyp bo ʼn groot wit baard wat tot op sy bruin nekdoek rus. Die doek vou onder ʼn swart toegeknoopte onderbaadjie in. ʼn Dik stoflaag bedek die skouers van sy bruin jas. Sy leer klapbroek is al verskeie kere oorgelap by die knieë. Selfs sy verbleikte velskoene het ʼn stoflaag oor.

Die loop van ʼn pistool steek by sy jas se sak uit.

Ek knyp my mond toe om ʼn gil te stuit.

Stadig draai hy na die kant toe en stap na die hangkas. Hy ruk een deur oop. Buk om meer te sien. Steek sy hand in en druk van die klere kant toe. Skud sy kop. Laat gaan die klere. Dan tree hy links en ruk die ander deur oop, herhaal die aksies. Skud sy kop, en tree terug.

So stap die ellendige ou man stadig deur my hele kamer en deursoek elke holte. Hy lig selfs die speelgoedkis se swaar deksel en krap deur die inhoud.

Dan draai hy na my toe.

Al kyk hy steeds nie direk vir my nie draai my maag en my hart klop tot in my ore.

Hy stap een tree vorentoe. Nog ʼn tree. My asemhalings raak al dieper, sodat my kop begin draai van die lighoofdigheid. Ek wens ek val flou.

Reg voor my bed, so naby dat ek hom kan raak as ek my arm sou uitsteek, stop hy.

Ek let die onmiskenbare reuk van pyptabak op.

Hy sak tot op sy knieë.

Hy buk af, verby my, lig die bedval op, en sak sy kop tot by die vloer. Hy ondersoek die onderkant van die bed.

Ek sien hoe sy skouers in teleurstelling afruk.

Hy laat gaan weer die bedval en staan op.

Hy draai om, stap stadig by die deur uit en verdwyn om die hoek.

Ek word die volgende oggend laat wakker. Hoe vreemd dat ek so vinnig na die gebeurtenis aan die slaap geraak het. Dit was seker die adrenalien stormloop wat my uitgeput het.

//

Sondag, na kerk, kuier ons by my ouma en oupa se huis vir middagete. Nadat my ouma haar beroemde afval dis bedien het, en almal versadig geëet is, gaan lê die grootmense skuins. My sussies kyk ʼn musiek program op die TV waarvoor ek nie lus het nie.

Ek drentel verveeld by die gang af. Die mure is versier met geraamde prente van verskeie voëltjies wat uit geknipte vere aanmekaar gelas is. Die groot staanklok se tikkende wyser weergalm deur die huis.

Van iewers kom ‘n sagte huilgeluid.

Ek stap stadig by die gang af en loer in elke vertrek in. My hart spring in my keel in wanneer ek ‘n figuur op een van die beddens sien sit, maar bedaar weer wanneer ek besef dat dit net my oupa is. Hy sit met sy rug teen my. Sy skouers ruk. Sy hand is in skaamte oor sy gesakte kop en oë gevou.

Dit is niks vreemds nie, na sy beroerte ‘n jaar gelede vind ons hom gereeld so.

Ek stap in en gaan staan voor hom. Hy hou dadelik op huil. Hy staar in die verte in met dowwe, tranerige oë. Hy strek sy hand uit na my maar laat val dit weer swaar tot op sy skoot.

“Doer vêr,” sê hy skielik in ‘n luid dog hees gehuilde stem. Sy wenkbroue lig en sy oë verhelder. “Kyk mooi, agter die kremetart, links van die koppie, daar wei die Elande. Al ag van hulle,” sê hy opgewonde. “Kyk die ram. My trots. My pragtige ram.” Dan begin sy skouers weer ruk en ‘n lang traan rol oor sy gesig.

Dit is ook gewoond vir hom om so na sy ou bosveld en kinderdae te verlang.

“Ons kinders wil net stories hoor,” begin hy weer, die keer sagter. “Elke aand. Ons gaan nie slaap voor Oupa nie kom vertel nie. Van die oorlog. Hy was in die oorlog! Tien khakis met sy knipmes in die nag keel afgesny. Baie geskiet. Vroue, kinders, gered uit die kampe. Net hy en sy perd. Hy verlang elke dag na sy vrou en pa op wat op die plaas agter gebly het,” sy stem raak nog sagter, sodat ek begin sukkel om die woorde uit te maak.

Ek besluit om hom eerder in vrede te laat. Ek stap na die deur toe.

“Ou Germishuys,” sê hy skielik hardop.

ʼn Koue rilling skiet deur my lyf tot in my tone. Ek stap terug na hom toe en gaan sit op die stoel langs sy bed.

Hy staar voor hom uit, asof onbewus van my teenwoordigheid.

“Germishuys?” vra ek met ʼn bewende stem.

“Die oorlog kom tot ‘n einde,” gaan hy weer aan met sy storie. “Negentien-twee. My oupa gaan huis toe maar alles is verwoes. Vee geslag, vrot karkasse oral. Ossewa lankal afgebrand. Sy vrou en tweeling babas is weg. Net sy pa is nog daar. Sy ou pa, ou Germishuys, toe al oor die sewentig. ʼn Slegte ding het gebeur. Die khakis het in die nag gekom. Hy en die vrou het geweet hulle was op pad. Hulle het alles weg gesteek. Potte. Kos. Klere. Die khakis verwoes mos alles.”

Hy snik hartstogtelik.

“Daardie aand wat die khakis gekom het, het die vrou haar babas ook weggesteek. Nie kans gekry om vir ou Germishuys te vertel waar nie! En daai nag het die khakis haar toe ook gevat. Hulle het die ou man gelos op die plaas, hy baklei te veel, hy is te oud. Oppad na die konsentrasie kamp het sy erken dat haar babas nog op die plaas is. Khakis het omgedraai en die babas gaan haal. Maar ou Germishuys was al in die veld, opsoek. Hy weet nie. Hy dink die babas is nog weggesteek. Hy soek. Soek oral. Raak mal van die soek. Hoor babas oral. Dag na dag. Hoor nog steeds die babas. Later spoor my oupa sy vrou en kinders op, almal veilig. Maar toe is ou Germishuys klaar dood. Tot sy laaste dag nog gesoek vir die huilende babas.”

My oupa se ooglede raak swaar. Hy gryp sy broekspype en tel sy bene een vir een op die bed. Ek trek net betyds ʼn kussing onder sy kop in.

Hy lê doodstil maar sy oë is nog wawyd oop.

Net wanneer ek wil draai om uit te stap sê hy weer iets.

“Hy soek oral. Kan nie slaap nie. Deursoek alles. Dag en nag. Net die muti kan hom laat slaap.”

Sy oë val toe.

//

Dit is my oupa se storie, wat ek in die dae wat volg telkemale herhaal in gedagtes, asook die volgende ontmoeting met Germishuys wat finaal my gevoelens van vrees teenoor hom in simpatie in verander.

Ek kom een aand laat uit die badkamer en vind hom in die kombuis met sy arm teen ‘n oop kas, en sy kop wat daarteen rus. Hy staan vir so lank daar dat ek begin dink dat hy aan die slaap geraak het. Skielik ruk sy kop op en hy kyk gespanne om hom. Sy aandag gaan na die agterdeur asof hy iets van buite af hoor. Dan storm hy so vinnig na die deur dat sy voete amper onder hom uitgly en hy met ‘n harde slag teen die hout beland. Hy gryp hy aan die handvastel, ruk die deur oop, en storm die nag waansinnig in.

Waar ek hom eers as ‘n wreedaardige gedaante gesien het, dink ek nou meer oor hom as ‘n tragiese figuur wat, soos sy grafsteen verklap, geen rus of vrede vir sy siel kan vind nie.

//

Die volgende dag gaan soek ek vir Lisa om haar oor muti uit te vra. Ek kry haar in die waskamer besig om klere op te vou. Sy vertel dat mens daar na die sangôma se hut moet gaan as jy siek is of ʼn probleem het. Dan klets sy aan oor die gebruike van al die verskillende plante wat in die veld gevind kan word. Uiteindelik kom sy tot die aardse materiale wat glo kragtige energie afgee. Wortels, hout, knolle, diere bene en velle. Ek vra haar uit oor wat sulke goed in ʼn boom buite ʼn huis sal doen. Sy wil nie antwoord nie. Wanneer ek haar vertel van die raamwerk wat in die boom was toe ons ingetrek het en dat die grootmense dit afgehaal het, vou sy die klere al vinniger op en haar oë raak al groter.

“Hulle moes dit nie afgehaal het nie,” is al wat sy sê.

//

Ek stap langs die grond paadjie af wat na die Batswana hutte lei, met my oog op daardie vreemde een op die heuwel met die hout geraamte rondom die ingang. Wanneer ek naby is stop ek. Sal sy my ooit wil help? Wat as sy betaling soek? Of erger, wat as sy my uit lag? Maar dan stap ek weer aan. Die alternatief is veel erger. Ek moet hulp kry.

Daar is geen deur om aan te klop nie. Ek stap stadig by die ingang in. Dit vat ʼn oomblik vir my oë om gewoond te raak aan die donker.

Die sangôma sit met gekruisde bene op ʼn mat op die vloer, asof sy my verwag het. Dik lae diere velle bedek haar skouers. Haar hare is deurvleg met kraaltjies wat laag oor haar oë hang.

Ek groet.

Sy kyk my op en af.

Ek gaan sit op die mat voor haar en begin verleë vertel van die ou man wat in die huis spook.

Sy lag nie een keer nie.

Terwyl ek nog praat maak sy ʼn houtkissie langs haar oop en haal verskeie beentjies en velle daaruit. Sy vat ʼn lang tou en begin dit daarmee aanmekaar vasbind.

Wanneer ek ophou praat hoor ek dat sy saggies neurie.

Ek bly in stilte sit tot sy klaar is. Sy bekyk haar werk een keer goed van bo tot onder en handig dit dan oor na my.

Ek bedank haar en wag om te hoor of sy ʼn prys gaan gee, maar sy staan net op, gaan buk by ʼn tafeltjie en begin groente kap.

//

Daar is ʼn plek aan die agterkant van die huis waar niemand ooit kom nie. Dit is hier waar ek die been en vel raamwerk hang, hoog in ʼn boom tussen die trosse van ʼn wistaria verskuil.

//

Daardie aand leun ek met my arms op die breë vensterbank in die eetkamer en staar by die venster uit. Van hier kan mens ʼn groot deel van die erf sien.

Die maan gloei in sy volle lig-geel glorie deur die takke.

Die nag is stil. Nie ʼn windjie waai nie. Die honde slaap al diep langs hul hok.

Skielik vang iets my oog. Dit is Germishuys wat stap oor die grasperk, weg van die huis af.

Hy beweeg stadig, verby die skuur, in die veld in, reguit op pad na die begraafplaas waar hy uiteindelik rus kan vind. Ek staar na terwyl sy figuur finaal in die nag in verdwyn.

//

Ek trek die gordyne toe en gaan sluit by my gesin in die TV kamer aan.

“Haai, kyk wie wys gesig hier by ons!” sê my ma.

Ek gaan sit op ʼn bank.

“Sy was seker te bang om op haar eie te wees. Bang vir al die spoke,” sê Carien.

Mia lag hardop.

My ma grinnik.

Joanni kyk vinnig weg, maar ek het reeds die glimlag gesien.

“Los die kind,” sê my pa, maar selfs hy kry nie reg om die lag in sy stem heeltemal weg te steek nie.

 “Vertel ons bietjie meer van al jou spoke, toe?” vra Mia.

Almal kyk na my.

Ek sit my voete op die bank en lê agteroor.

“Moet tog nie laat my spoke julle so pla nie. Ek sorteer hulle self uit.”

Leave a comment