Die Skuimpie Skelm

Haar nalatenskap.  ʼn Dooie, opgeblaasde skaap met fyn blommetjies bedek. Die herinnering van twee groot oë wat skrikkerig vanuit die kliphuisie se donkerte na my staar.  ʼn Hopie verdroogte pruimpitte in die mik van  ʼn tak.  ʼn Boerboel wat kreunend slobber aan  ʼn been, met geen idee hoe gelukkig hy is nie. En ek wat al weer alleen is.

=

Hoog bo op die ou beeskraal se wye klipmuur sit ek en staar dromerig na die horison tot dat die son se eerste strepie gloeiende goud agter die mielielande begin uitsteek. Dan swerf my oë oor die bekende toneel wat my Oom se plaas is. Voor my strek die weiveld tot onder by die vlei en klein werkershuisies. Na dit, nog weivelde, die groot hooiskuur en die dennebos wat heel jaar na Kersfees ruik. Die wêreld is besig om wakker te word. Ek hoor  ʼn haan kraai, ʼn lepel wat teen  ʼn pot gekap word,  ʼn baba wat huil. Die reuk van rook en vleis dryf deur die warm lug tot by my. ʼn Ligte bries waai teen my gesig en ritsel die grassade in die veld onder my.

Ek skrik wanneer Skollie skielik om die hoek gestorm kom. Ek het skoon vergeet dat hy besluit het om vanoggend saam my te stap. Ek fluit om sy aandag te kry. Hy blaf  ʼn vlugtige, beleefde hallo in my rigting, en slaan dan angstig koers na  ʼn spesifieke bos gras toe. Hier blaf en krap hy waansinnig tot hy uiteindelik iets vang, een kou gee en afsluk. Ek gril maar kan nie help om ook te giggel nie.

=

In die kombuis bak my ma eiers en klets met my pa. Hy knik maar gee meer aandag aan die dik laag appelkoos konfyt wat hy op sy roosterbrood smeer. Twee van my ouer sussies eet lustig aan hul ontbyt, splinternuwe Walkmans in hul ore. Die derde staan en lag terwyl sy die klein Steffie leer om te sit met  ʼn repie spek. Ek haal  ʼn bord uit die kas en gaan staan langs my ma.

My pa vryf sy hand een keer deur my lang ligte lokke.

 “Ek het die brief gestuur, ek weet nie wat meer ek kon doen nie. Ek het uitdruklik vir haar laat verstaan dat ons haar nie meer kan bekostig nie. Die vakansie is nog lank nie eers verby nie. Wat gaan ons nou doen? Ek moet daardie lap koop. Het sy die brief gekry?” vra my ma.

My pa mompel iets.

“Wat? Ag, kan jy tog net met haar gaan praat? Is sy nog in haar kamer? Jy gaan haal haar ook net op die têksie stasie en sê my niks.”

“Sy sê sy sal verniet werk,” sê hy harder.

“Wat op aarde! Ons kan mos nie -”

“Moes ek haar nou op die stasie gelos het?” brul hy.

Ek tik aan my ma se arm. Sy sien my en skep ʼn eier in my bord in. Ek druk die eier met my wysvinger. Kliphard, maar eetbaar.

Na ontbyt bak die son my vel warm terwyl ek uitgespan op  ʼn bank op die stoep lê. My twee oudste sussies lê ook daar, elk met  ʼn dik Danielle Steel novelle in hul hande. Ek wil dit en die Wilbur Smith boeke in die gangkas so graag lees, maar volgens my ma is ek om een of ander rede nog heeltemal te jonk.

“En by the way,” sê een sussie vir die ander, “as jy vir ma sê van Eric gaan ek jou dagboek lees!”

Die ander se mond val oop. Dan frommel sy  ʼn papiertjie wat op die tafel gelê het op en gooi dit na die ander. Dit bons teen haar voorkop, reg tussen haar oë. Die twee bars uit van die lag.

Laat middag sit ek hoog in die takke van die groot peperboom voor die agterdeur. Ek het die wye, plat mik ingerig as ʼn soort van boomhuisie vir myself, kompleet met vier verskillende bok horings as versierings.

Iets vang my oog.

Dit is Betsie, ons bediende van voor ek gebore was, op pad na haar kamer.

Sy stop by haar deur en haal ʼn sleutel uit haar voorskoot. Sy kyk twee kere om haar voor sy oop sluit. Sy stoot die deur stadig oop, tree in die donkerte in en maak dit weer saggies agter haar toe. Ek hoor hoe die deur weer van binne gesluit word.

=

Die volgende dag sit ek op my oopgespreide kombers by die dam vir my weeklikse piekniek. ʼn Fees van rooi koeldrank, biltong en tjips is uitgepak. Die hoofmaal is ʼn kosblik vol skuimpies wat ek vanoggend self in die mikrogolf gemaak het. Ek bewonder my baksel van alle kante.  ʼn Hele hoop wolkerige wit versiersuiker drome, so perfek soos wat hul kon kom sonder om  ʼn oond te gebruik het.

Voor ek my eerste hap kan vat hoor ek  ʼn ritsel in die takke aan die ander kant van die dam. Geen hond het vandag saam my gestap nie. Die buurman se huis is naby, maar wat sal hy of sy werkers nou in die bosse maak? My nuuskierigheid neem my lus vir die skuimpies oor. Ek staan op en stap versigtig om die dam tot by die bosse. Ek trek die takke weg maar vind net  ʼn skadu leemte. Dan hoor ek weer  ʼn geritsel, die keer aan die ander kant van die dam. Dit moet my verbeelding wees, of rotte, of die wind.

Terug op my kombers tel ek die kosblik op en plaas dit op my skoot. Dan vries ek.

Die helfte van die skuimpies is weg.

Ek lig die kosblik tot oog vlak en draai dit stadig om en om. Voorheen kon die deksel skaars op sonder om die skuimpies te druk, maar nou is daar baie spasie. My hart klop al vinniger. Ek kyk om my. Nie  ʼn siel in sig nie. Het  ʼn hond hier deurgevaar? Ek krap met my hand deur die oorblywende skuimpies. Geen slym of krummels nie.  ʼn Grootmens sou sê ek het vergeet dat ek dit self geëet het. Het ek?

Ek sit die kosblik neer en kyk nou ordentlik om my.  ʼn Doodse stilte heers. My oë rol oor die riete, okkerneut bome, die bosse aan die ander kant,  ʼn verdroogte stomp. Ek skrik wanneer  ʼn hadida kwê in die verte. My hart klop nou behoorlik in my ore. Is ek alleen?

=

Oral waar ek gaan kyk ek oor my skouer. Ek kan aan niks anders dink nie. Met aandete merk my pa op dat ek nog stiller as gewoonlik is.

In kerk die volgende dag kon Dominee net sowel ʼn mimiekkunstenaar gewees het. Wanneer die gemeente opstaan vir  ʼn Psalm neem dit  ʼn paar vuil kyke vir my om agter te kom dat ek ook moet opstaan.

=

Namiddag sit ek doodstil agter die takke op die dam se wal. Ek het  ʼn kosblik vol varsgebakte skuimpies op die plek waar ek gister piekniek gehou het neergesit, en hou dit nou stip dop. Ek wag vir  ʼn ewigheid. Wanneer die son laag lê en my boude begin pyn gaan haal ek maar die kosblik en keer huis toe.

=

Skuins voor skemer klim ek by die ou beeskraal se muur op. Dan stop ek in my spore. Verbeel ek my alweer? In  ʼn skeur in die sement, reg waar ek altyd sit, staan daar ‘n vars geplukte roos.

Ek erken dadelik die geel en oranje blare. Dit behoort aan die een roosboom in ons eie tuin. Oorbluf, bene lam van verwarring, gaan sit ek langs die roos. Ek staar uit oor die horison terwyl  ʼn honderd onwaarskynlike moontlikhede deur my kop gons. Dan hoor ek dit. Eers  ʼn effense gedempte kuggie wat enigiets kon wees, maar dan  ʼn paar duideliker, onmiskenbare hoeste. Dit kom van reg agter my, binne in die kraal.

Ek swaai om. Niemand daar nie. My aandag gaan na die klein kliphuisie in die hoek. Ek klim stadig by die muur af en stap so saggies as wat ek kan nader. Ek maak seker om elke takkie en klippie op die grond te mis. My hart klop in my ore. By die ingang buk ek tot op my knieë, en loer dan in.

In die hoekie, omvou in duisternis, kyk twee oë terug na my.

My oë pas aan en die donkerte lig soos  ʼn verhoog se gordyn.

Daar sit ʼn bewende dogtertjie, omtrent my ouderdom. Sy klou haar bene styf vas.

Sy lyk langer as ek, maar baie maerder, en, kan dit wees, sy dra die kerkrokkie wat my ma aan die begin van die somer uit my kas gehaal het om plek te maak vir nuwer klere. Die rooi blommetjies, wat nou verbleik is, en die pof moutjies, is onmiskenbaar.

Sy kyk my op en af met oë groot van vrees. Wanneer ons oogkontak maak glimlag ek so wyd as wat ek kan in  ʼn poging om haar te laat ontspan. Uiteindelik laat sak sy haar skouers en glimlag floutjies terug.

“Hallo.”

“Dumêla,” bewe haar klein stemmetjie.

Ons hoor  ʼn harde snork geluid van buite. Skielik steek Skollie sy kop by die ingang in regs langs my. Die meisie gee  ʼn verskrikte skreetjie en slaan dan vinnig haar hand oor haar mond. In die klein spasie lyk die Boerboel meer reusagtig as ooit. Hy draai sy kop na die kant en staar na haar vir lang, vreesvervulde sekondes. Dan knik hy eenmaal, glip vorentoe en lek haar met sy druppende tong oor haar gesig. Met swaaiende stert druk hy dan sy groot kop onder haar dun armpie in, sy manier om te bedel vir  ʼn vryf. Met my oë beduie ek vir haar, hy gaan nie opgee tot sy vir hom een of ander erkenning gee nie. Uiteindelik lig sy ʼn bewende, stywe armpie en tik liggies op sy voorkop. Dit werk, hy kreun in dankbaarheid en draai dan om en glip weer uit verby my en verdwyn. Sy lyk verlig en wanneer ons oogkontak maak vorm daar amper  ʼn laggie oor haar gesig.

Ons hoor stemme in die verte en haar oë raak weer groot. Dit is duidelik dat sy nie ontdek wil word nie. As iemand hier aankom sal my aanwesigheid aandag na haar trek. Met  ʼn laaste glimlag glip ek by die deur uit en hardloop huis toe.

=

Die volgende oggend staan ek nog vroeër op as gewoonlik, sluip by die huis uit en hardloop soos  ʼn pyl oor die grasperk, vlieg oor die heining en rits oor die weiveld tot by die ou beeskraal.

Uitasem sak ek by die ingang van die kliphuisie neer. Dit is leeg.

Teleurgesteld klouter ek by die klipmuur op om my sonsopkoms pos te beman. Nog voor die son sy verskyning kan maak hoor ek iets onder my. Ek kyk af. Dit is sy!

Sy kyk op na my, glimlag, en klim verder tot bo. Hoeveel keer het ek tevergeefs my sussies gesmeek om hier op te klim en dan sê hul altyd dat dit te hoog is, maar hier is dan iemand wat dit doen sonder aanmoediging of sukkel. Sonder  ʼn woord kom sit sy langs my en staar uit oor die skouspelagtige landskap. Die sagte, pastel pienk dagbreek lig, die geheimsinnige, melkerige mis oor die vlei, die soet reuk van natgedoude kraalmis, verleen  ʼn onwerklike, magiese gevoel aan die toneel. Sy studeer elke detail met verwondering.

Wanneer die son in sy volle glorie bo-op die goue mielielande rus, staan ek op. As ek nie nou terugkeer vir ontbyt nie sal daar vrae wees om te beantwoord. Sy klim ook by die muur af en, tot my verbasing, stap sy saam met my in die huis se rigting.

Wanneer ek by die agterdeur kom draai ek om haar te groet.

Ek stop verbaas. Sy het skoonveld verdwyn.

Na ontbyt stap ek terug ou beeskraal toe maar sy is nie daar nie. Eers later die dag, wanneer ek hoog in  ʼn pruimboom aan die agterkant van die huis lê en ontspan, gewaar ek haar op die sement onder  ʼn venster sit. As dit nie vir die rooi kerkrokkie was nie sou ek haar nooit raak gesien het nie. Ek fluit twee kere voor sy in my rigting kyk. Ek swaai  ʼn groot tak op en af. Sy sien my. Met  ʼn breë glimlag spring sy op en hardloop na die boom. Rats, miskien nog ratser as ek, klouter sy op tot by die mik langs myne. Haar aandag gaan dadelik na die ryp pruime wat in swaar trosse om ons hang. Sy kyk onseker na my. Ek knik en glimlag. Dan begin sy, eers stadig, dan gulsig, een pruim na die ander verorber. Sy plaas elke skoon gesuigde put versigtig in  ʼn mik tot daar later ʼn hele hoop in die vorm van  ʼn piramide is. Eindelik versadig lê sy agteroor op haar rug en wikkel rond tot sy so gemaklik soos ek uitgespan is. Vir  ʼn lang tyd staar ons na die swaaiende blare en geniet die son spatsels wat oor ons gesigte speel.

=

In die dae wat volg doen ons alles saam.  ʼn Patroon vorm. In die oggend ontmoet ons op die muur en kyk na die sonsopkoms. Dan gaan ek huis toe, sy verdwyn altyd iewers in die tuin, en sluit by my familie aan vir ontbyt. Nadat almal die kombuis verlaat het druk ek kos in my sakke of onder my hemp in. Gewoonlik  ʼn bakkie oorskiet, ʼn vars rolletjie, beskuit of biltong, wat ook al ek kan vind.

Ons ontmoet by die pruimboom. Sy is gewoonlik voor my daar en dan vind ek haar hoog bo in die takke weggekruip. Ek klim op en gee vir haar haar ontbyt, en dan slaan ons koers in.

Ons hardloop resies deur die weivelde. Soms nooi ons vir Skollie saam om dit meer uitdagend te maak. Ons gaan op verkennings ekspedisies. Met iemand aan my sy het ek meer moed om verder te gaan van die huis af as tevore. Ons loop die een bos waar ek nog nooit in was nie plat, en ontdek ʼn dammetjie omring met riete,  ʼn ou verlate begraafplaas, en die klipmure van ʼn ou varkhok wat ons omskep in  ʼn reuse pophuis. Ons, die twee poppe wat daar woon, bak die heerlikste ysterskroewe, kraakvars geroeste metaal plate en smeulende brood bakstene. ʼn Ander dag leer ek haar hoe om bokbolletjies te spoeg. Sy gril haar eers dood en weier om dit in haar mond te sit, maar na ek dit  ʼn paar keer doen probeer sy. Wanneer sy eers die kuns aanleer is dit onmoontlik om by te bly. Sy spoeg so ver dat ons gewoonlik sukkel om te sien waar dit geval het.

=

Een dag, wanneer my gesin dorp toe is, lei ek haar na die ou uie kamer toe. Op my eie was ek altyd te bang om alleen hier in te gaan, ʼn nagevolg van al die spookstories wat my sussies my al vertel het.

Sy stop buite die deur.

Ek wys vir haar om saam my in te kom maar sy skud net haar kop, oë groot van bekommernis.

Ek probeer verduidelik dat al die groot mense dorp toe is. Dit vat ʼn tydjie vir haar om uiteindelik ʼn treetjie tot binne te gee.

Die saalagtige buitekamer het aan die een kant ʼn lang ry gebreekte vensters en talle verdroogte trosse uie wat van die dak af hang. Die vloer is bedek met gebreekte meubels, gerimpelde antieke tydskrifte en koerante, en ander rommel.

Ek begin verken. Ek vind ʼn pienk keramiek bord en bekers met die mooiste blou en wit patrone van kinder engele wat hand-aan-hand deur wolke vlieg. Elke item hou ek hoog in die lug op sodat sy dit ook kan sien. Stadig aan begin sy ontspan.

Ons vind  ʼn kis vol ou lappe. Nou raak sy sommer opgewonde. Sy vat ʼn groot donker blou lap en hang dit met seremonie oor haar skouers. Dan trek sy ʼn kleiner lap oor haar kop, tel ʼn stok van die vloer af op, en transformeer in  ʼn fantastiese koningin met ʼn towerstaf. Sy stap op en af met  ʼn majestueuse neus in die lug en deel links en regs instruksies aan haar verbeelde onderdane uit.

Ons speel so lekker dat nie een van ons die kar se dreuning en die honde se geblaf hoor nie.

Tegelyk sien ons my pa stap oor die grasperk.

Net voor hy sy kop in ons rigting draai val ons plat.

Van die vloer af loer ek op na haar met ʼn glinster in my oë en ʼn lag in my keel, maar haar gesigsuitdrukking stop my. Haar oë is groot van vrees.

Na ʼn tydjie staan sy stilletjies op en trek haar gewaad uit, waai verdrietig in my rigting en verdwyn by die deur uit.

=

Vroeg oggend, in plaas daarvan om na die sonsopkoms te kyk, sit ons in ʼn tuinbedding en grou erdwurms uit. Ons maak  ʼn hele glasbottel vol van die ellendige kriewelende gediertes. Na ontbyt pak ek  ʼn behoorlike piekniekmandjie en vat twee visstokke. Ek kry haar by die boom en ons vat pad na die dam. Skollie agtervolg ons.

By die dam sprei ons die kombers oop en pak ons kos uit. Dit is grillerig om die wurms deur die hoeke te druk, maar dit moet gedoen word. Binnekort is ons lyne nat, ons stokke rus op takke wat ons in die grond geplant het, en ons sit terug en wag vir die aksie.

Die son skuif al hoër deur die lug.

Ons ooglede begin swaar raak. Die stokke maak nie die geringste roering nie. Die water is seepglad.

Wanneer ons  ʼn hond hoor blaf in die verte sit ons regop. Skollie het vir  ʼn tyd lank agter ons gelê maar nou is daar geen teken van hom nie. Dan hoor ons  ʼn geblêr saam met die geblaf. Ons sit nog meer regop en kyk na mekaar met groot oë. Die vreemde geluide beweeg al nader aan ons.

Dan skielik, om die hoek van  ʼn bos, bars daar  ʼn groot stof wolk uit en vanuit die wolk spring ʼn skaap op hoë spoed, ʼn besete desperasie in sy koue swart oë. Hy blêr so wild dat al die voëls meteens uit die bome vlug.

Skollie volg kort na hom met waansin in sy oë en spoeg wat in alle rigtings van sy skerp tande afspat.

ʼn Verlede beeld skiet in my kop in. Ek was nog klein. Ek het in die pomphuis weggekruip. My pa het ons geliefde Labrador met ʼn tou aan die boom vas gemaak. Gevryf oor sy kop, agter sy ore, gekrap op sy ken. Die hond was so verward. Toe het my pa ʼn ver ent weggestap, die .22 geweer op hom gerig en die sneller getrek.

Ek spring op en skree so luid dat my stembande brand.

“Nee! Skollie!”

“Motlohela ntja!”

Die hond kyk nie eers in ons rigting nie.

Die skaap maak ʼn lyn vir die dam. Op die wal kry Skollie hom beet. Hy slaan sonder huiwering sy slagyster bek binne die ongelukkige dier se boud in. Die skaap blêr een laaste keer, angsbevange, oorverdowend. Dan tuimel hy grond toe. Skollie is dadelik op hom. Hy slaan sy tande in sy keel in.  

ʼn Streep bloed verf die blou lug vir ʼn oomblik met rooi.

Die skaap gee een laaste skop wat hom tot in die dam se water laat beland. Daarna maak hy nie weer  ʼn geluid of beweging nie.

Skollie spring en blaf nog wild rond. Nou en dan trap hy teen die grond vas in oorweging om agter die skaap in te spring. Uiteindelik kry hy lank genoeg stil gestaan om op te let dat sy prooi gesneuwel het. Dan staan hy net daar en staar dramaties af na die karkas, bloed al tappend van sy voorkop en bek af.

Die spoed waarmee my maat my help oppak maak dit duidelik dat sy ook weet wat met honde gebeur wanneer hul ʼn plaasdier doodgemaak het.

Ek trek vies vir Skollie aan sy halsband na die vlak kant van die dam toe. Ek ruk hom nader aan die water en begin die bloed afspoel. My maat kom help my. Ons kry hom vinnig skoon en vat koers huis toe.

=

Met aandete skep my ma  ʼn lepel beet vir my in. Ek staar getraumatiseerd na die helder rooi sap wat oor die wit bord versprei.

“Ag, dis net beet! Jy eet heeltemal te min groente. Ek wil niks geklaery hoor nie,” skel sy.

Ek knik bedees en eet dan met lang tande tot alles op is. Die gesin klets oor die dag wat verby is maar ek kan nie die beeld van  ʼn bebloede Skollie, die skaap, eers vlieënd deur die lug en nou morsdood, en al die aaklige blêrende klanke uit my kop uit kry nie.

Na ete groet ek almal vir die aand en onttrek na my kamer toe. Ek maak die deur agter my toe en gaan sit op die bed. Ek hoor  ʼn klap geluidjie agter my. Nog een. Ek kyk om. Nog een. Ek stap na my venster, trek die gordyn oop, en skrik my lam. My maat staan daar met  ʼn hopie klippies in haar hand. Sy laat val dit en waai vir my,  ʼn benoudheid in haar oë. Dan wys sy met haar hande dat ek vinnig moet kom. Iets is fout. Ek trek  ʼn swart jas aan en trippel saggies verby die TV kamer waar almal sit. By die agterdeur draai ek die sleutels so stadig moontlik, en glip dan saggies uit en maak die deur weer toe.

Sy wag vir my by die boom. Sy gryp my dadelik aan die mou en begin my trek in die duisternis van die nag in. Ek is eers senuweeagtig maar besluit om haar te volg. Dit raak vinnig duidelik dat ons in die rigting van die dam beweeg. My hart klop, ek was nog nooit so ver in die aand nie. Die vriendelike weivelde wat altyd so bekend is voel nou vol onheilspellende gevare. Gelukkig ken ek die pad goed genoeg om te weet waar die rotse, vore en heinings is. Die sekelmaan help ook bietjie.

=

By die dam sien ek waaroor haar kommer gaan. In verskeie rigtings gewaar ek nou die swaaiende ligte van manne met flitse. Hulle soek die verlore skaap. As hul hom doodgebyt vind gaan hul missie verander in  ʼn soektog vir wie hom doodgebyt het.

Ons loop gebuk langs  ʼn ry bosse af totdat ons  ʼn oorsig het van die hele dam. Sy verdwyn om  ʼn hoek en kom terug met  ʼn groot verdroogte bos in haar hande. Die bos is lig genoeg om te dra en dig genoeg om  ʼn dooie skaap mee te versteek. Sy druk dit in my hande met  ʼn bemoedigende glimlag. Ons albei weet dit moet ek wees, want nog meer as ek mag sy nie gesien word nie.

Daar is nie veel tyd nie, die ligte beweeg al nader aan waar die skaap lê.

Ek glimlag hopeloos terug en knik dat ek verstaan. Sy staan kant toe en ek stap verby. Steeds gebukkend klim ek teen  ʼn styl wal op en drafstap na die plek waar die skaap is.

Ek vries wanneer  ʼn groep mans om  ʼn bos verskyn, ek het nie besef hoe naby hul was nie.

Ek sien hul duidelik, die buurman homself en vier werkers aan sy sy. Hul flitse swaai oor die wal en beweeg al nader na my.

As ek nou  ʼn beweging maak sal hul my dadelik sien. Ek is vasgevang. Iets vang my oog op die wal. Terselfdertyd beweeg al die flitsligte meteens soontoe.

Dit is my maat wat breë bors bo-op die wal staan.

Die mans staar verbaas. Sy kyk vinnig na my, knik na die skaap, en draai dan haar aandag na hulle. Dan begin sy mars, op en af, neus in die lug, en saai haar instruksies luid aan haar onderdane uit. Ek besef net betyds wat sy besig is om te doen. Ek vind vinnig die skaap se karkas en druk die bos op hom neer. Terwyl die mans steeds gapend na die spektakel op die wal staar, glip ek terug in die nag in.

Ek hardloop in die rigting van die huis. Ek kyk net om om te sien dat sy weggekom het en van die anderkant af ook huis toe hardloop.

=

Die volgende oggend is sy nie by die muur nie.

Na ontbyt pak ek kos in en gaan na die boom, maar sy is ook nie daar nie.

Namiddag sit ek voor die TV saam my sussies wanneer ons  ʼn onaardige geskree van buite hoor.

Ons spring op en hardloop na die venster.

Dit is my maat.

Sy hardloop vreesbevange in wye sirkels oor die grasperk rond. ʼn Gillende Betsie is kort op haar hakke, vadoek in die hand. Elke keer wat sy die vadoek in haar rigting swaai, spring my maat hoog in die lug in om dit te mis. Stof en hoenders spat in alle rigtings.

My sussies lig hul wenkbroue en keer terug na hul program. Ek wil weg kyk maar kan nie.

Skielik maak alles sin. Natuurlik is sy Betsie se dogter. Sy was seker in die geheim hiernatoe gebring, in ʼn groot tas of deur  ʼn familielid in die nag. Sy was veronderstel om weg te kruip, my ouers sou nooit nog  ʼn mond wou voed as hul nie eens vir Betsie kon bekostig nie. En gisteraand het die buurman haar op die damwal gesien en natuurlik my pa gebel om die onbekende kind naby ons huis te rapporteer.

Eindelik vang Betsie haar. Sy gryp haar hard aan haar elmboog en trek haar kamer toe. Ek sien die eerste hou teen haar boude val voor die deur toe gaan.

Die volgende dag sit ek met  ʼn swaar hart in die pruimboom en kyk hoe my pa Betsie se tasse in die bakkie laai. Dan verskyn die twee beswaarde siele, styf teen mekaar, hand aan hand. Die pak is lankal verby en die vrede tussen hul is herstel. Soos hul bakkie toe stap sit Betsie  ʼn arm om haar dogter en druk haar nog stywer vas. Ek hoor  ʼn snik. Hul stop voor my pa.

“Sy mis my daar. Hulle maak nie mooi met haar nie. En daar is nie genoeg kos nie.”

“Ons het nie plek of geld om jou familie aan te hou nie. Jy kan terug kom, maar sy moet by haar pa gaan bly.”

ʼn Lang traan rol oor my maat se wang.

My pa sien dit seker ook, want dan las hy by: “Ek gee jou ʼn verhoging. Hulle moet ordentlik kos vir die kind koop.”

Wanneer hul in die bakkie klim fluit ek so hard as wat ek kan en swaai  ʼn tak. Sy kyk dadelik, maar vandag is daar geen glimlag nie. Met die deur nou toe druk sy  ʼn handjie teen die venster en kyk diep in my oë. Ek staar agterna terwyl die bakkie wegrol en uit sig verdwyn.

=

Tyd gaan aan op die plaas asof niks gebeur het nie. ʼn Week later keer Betsie alleen terug. Die vakansie kom tot  ʼn einde en ek gaan weer skool toe. ʼn Maand later gaan besoek ek die skaap om te kyk of hy nog verskuil is. Die bos het weggewaai maar met die draai van die seisoen is die dam nou bedek met  ʼn laag van fyn pienk blommetjies wat die skaap goed wegsteek.

=

Ek raak ouer en klim al minder boom, maar soms gaan besoek ek nog die hopie pitte in die pruimboom, asof dit  ʼn gedenkteken vir haar is.

ʼn Volle twee jaar verloop voor Skollie weer  ʼn skaap vang. In plaas daarvan om hom te skiet gee my pa hom aan  ʼn kerk lidmaat wat  ʼn kleinhoewe sonder vee besit.

=

Een vir een verlaat my sussies die huis. Uiteindelik matrikuleer ek ook en trek stad toe om kuns te studeer. Later trou my sussies elk en begin families van hul eie. Betsie trek saam met die oudste in wanneer hul  ʼn groot huis koop. My ma en pa trek na  ʼn meenthuis in die dorp.

Op  ʼn Sondag oggend bel my ma my om te hoor hoe dit gaan en ook om te sê dat Betsie vanoggend in haar slaap oorlede is. Van wat? Sy is nie seker nie, weet net dat sy siek was. My Oom gaan  ʼn bees na haar familie toe stuur vir die begrafnis.

=

Daardie vakansie ontmoet die hele gesin by my een sussie se skoonouers se strandhuis. Eendag, terwyl ek en my ma langs die see afstap vra ek haar “Onthou ma nog Betsie se dogter?”

Sy trek haar oë skrefies en kyk uit oor die branders asof die antwoord daar dobber.

“Betsie het baie kinders gehad, ek kan nie een dogter spesifiek onthou nie.”

“Die een wat op die plaas was en weer huis toe gestuur was.”

“O-ja, ek dink ek onthou so iets. Wat van haar?”

“Ek wonder maar net wat van haar geword het. Weet ma wat haar naam was?”

Sy weet nie, maar na nog vrae kry ek die naam van Betsie se man en oudste seun asook die area waar hul gebly het. Die internet en  ʼn paar oproepe vul die res van die informasie in.

=

Sy het ʼn beeldskone vrou geword. Ek staar verstom na haar by die voordeur van haar luukse meenthuis in Montana. Sy is steeds so lank en skraal, maar lyk nou meer soos  ʼn model as  ʼn honger kind. Sy dra  ʼn lang, duursame linne gewaad. Haar hare is met fyn goue lintjies gevleg.

Oor tee onthou ons die ou dae. Haar oë raak vol trane wanneer ek simpatiseer oor haar ma. Sy was op die drumpel om die huis langs hare vir Betsie te koop.

Sy vertel my van haar kinderdae, die swaar jare in die informele nedersetting, dan die beurs vir haar akademiese prestasies, die grade wat gevolg het, en die groot besigheid wat sy nou van die grond af op bou.

Wanneer die vertrek begin donker word staan ek op om te gaan. Ons verruil nommers. Sy kom gereeld stad toe. Ons tref reëlings vir  ʼn koffie ontmoeting.

Terwyl die son agter die horison van beton afsak en die voorstedelike toneel in  ʼn goue gloed omhul, klim ek in my kar en waai vir haar. Met ʼn baba op haar sy en ʼn kleuter in die hand groet sy met ʼn breë glimlag. Daardie glimlag wat geen mens ooit kon vergeet nie.

2 thoughts on “Die Skuimpie Skelm

  1. Genade sussietjie… jou talent het geen einde. Dit was nou n lekker storie met so tikkie reine waarheid hier en daar. Ek kon my lekker inleef. Moenie ophou skryf nie?

  2. Jy weet hoe om die mooi uit lank gelede te gaan haal en dit lank en stadig soos murg uit ‘n oondegebakte boudbeen te suig. Tot die lekker op is.

Leave a comment